Carla Strauss beantwoord ‘n paar van ons vrae.

Carla Strauss beantwoord ‘n paar van ons vrae.

In ‘n eksklusiewe V&A met Carla Strauss, duik ons diep in haar nuutste projek, Pulling Teeth. Carla, wat bekend is vir haar lirieke en emosionele musiek, deel haar persoonlike reis en die inspirasie agter hierdie nuwe liedjie.

Hierdie onderhoud bied ‘n blik op haar kreatiewe proses, die emosies wat sy beleef het, en hoe sy die balans vind tussen persoonlike lewe en die verwagtinge van ander. Kom saam met ons terwyl ons meer ontdek oor wat Pulling Teeth vir haar beteken en wat luisteraars kan verwag van hierdie opwindende nuwe werk.

Wat het jou geïnspireer om PULLING TEETH te skryf, en wat beteken die liedjie vir jou persoonlik?

Ek het Pulling Teeth geskryf net nadat ek my kleinhandel bedank het. Ek was baie verlore en het nie geweet wat ek volgende sou doen nie. Al die gedagtes rondom wat vir my toekoms voorlê, het my laat besef dat ek nie regtig vir myself lewe nie, maar lewe vir ander mense sodat ek hulle nie teleur te stel nie.

Pulling Teeth is ‘n dagboekinskrywing waar ek sê dat ek vir myself wil lewe en doen wat ek wil, sonder om bang te wees dat mense teleurgesteld in my sal wees. Hierdie liedjie is baie kosbaar vir my; dis soos ‘n herinnering vir my wanneer ek in my ou maniere val om te dink aan myself en wat goed gaan wees vir my.

Hoe het jou eie ervarings met die gevoel om ander nie teleur te stel nie, die lirieke van die liedjie beïnvloed?

Daar’s ‘n spesifieke lyn in my liedjie wat ek dink dit die beste beskryf, “I’m just a collection of everybody that I’ve known”. Hierdie lyn kom van die gevoel af dat ek so besig is om te doen wat ander verwag, dat ek op die ou einde net doen wat hulle sou doen. Dit voel asof ek ‘n deel van hulle persoonlikheidseienskappe aanneem in die proses om hulle gelukkig te hou. Eventually word my persoonlikheid net eintlik ‘n versameling van die mense rondom my s’n.

Kan jy verduidelik hoe jy die balans vind tussen mense se verwagtinge en om getrou aan jouself te bly?

Sodra ek die antwoord het, sal ek dit deel. Vir nou leer ek nog hoe om die balans te vind. Party dae is ek baie goed daarmee om my sê te sê op ‘n respekvolle manier, en ander dae gee ek in en val terug in my ongesonde roetines van mense gelukkig hou bo myself.

Jy beskryf PULLING TEETH as baie persoonlik en rou. Hoe was die skryfproses vir jou emosioneel?

Ek het Pulling Teeth geskryf die dag voor ek studio toe moes gaan. Ek is ‘n uitsteller, en dit is gewoonlik wanneer ek ook mees produktief is. Die skryfproses van Pulling Teeth was baie stresvol aan die begin, want ek was bang dat ek nie betyds sou klaar kry nie en as gevolg daarvan my vervaardiger sou teleurstel.

Ek sou sê dit is waar die oorspronklike idee vandaan kom. Ek het besef dat hoe ek in daai oomblik gevoel het, is hoe ek meeste van die tyd voel, en dit was asof ek ‘n oorstroming van emosies ervaar het. Ek het al my rou emosies en gedagtes begin neer skryf soos wat ek hulle gevoel het.

Wat hoop jy dat luisteraars sal voel of ervaar wanneer hulle na die liedjie luister?

Ek hoop luisteraars kan hulself in my liedjie vind. Ek glo dat die gevoelens wat ek ervaar, nie uniek is nie. Ek dink daar is baie mense wat voel asof hulle moet opleef na ander mense se verwagtinge, maar gevoelens soos hierdie word nie sommer oor gepraat nie. Musiek oor die algemeen is baie kragtig. Ek dink dit is baie belangrik vir mense om op te praat oor hoe hulle voel, al is dit net deur om te sê dat hulle hulself vereenselwig met ‘n liedjie.

Hoe het die vervaardigingsproses saam met Ludwig Bouwer van One Big Room jou visie vir die liedjie versterk?

Ludwig is ‘n baie talentvolle musikant. Hy is een van die min mense vir wie ek ‘n halwe idee kan gee, wat dit dan sal inkleur in presies die manier wat ek in my kop gehad het. Hy is ook baie oop vir my lae idees en weet gewoonlik hoe om my in toom te hou wanneer my idees nie vir ‘n spesifieke liedjie werk nie.

Jy sê dat PULLING TEETH nie noodwendig ‘n poptreffer is nie. Wat onderskei hierdie liedjie van jou vorige werk?

Hierdie liedjie was baie eksperimenteel. Dit klink asof daar baie min elemente is, maar die tekstuur is gemaak deur ‘n hele paar “synths” en “samples”. Die grootste uitstaande element in die liedjie is my stem. Ek wou hê dat wanneer mense daarna luister, hulle moet voel asof ek direk met hulle praat in ‘n manier.

Wanneer jy die liedjie luister deur ‘n luidspreker of oor die radio, klink dit asof ek net “reverb” op my stem het, maar wanneer jy met oorfone luister, sal jy agterkom dat ek twee verskillende stemopnames bo-oor mekaar geplaas het. Die een is heeltemal aan die regterkant en die ander heeltemal aan die linkerkant.

Wat beteken lirisme vir jou as kern van jou musiek, en hoe probeer jy jou emosies deur lirieke oordra?

Lirieke is vir my die belangrikste deel van my musiek. Ek dink nie ek sal ooit ‘n liedjie kan vrystel wat ek nie my eie lirieke voor geskryf het nie. Wanneer ek musiek skryf, het ek altyd ‘n rede; dit speel ‘n groot rol in hoe ek my gevoelens verwerk. Wanneer ek dan teruggaan en na my musiek luister, kry ek meer clarity oor die situasie en dan voel ek gewoonlik ook meer rustig.

Hoe het jou musiekstyl en benadering ontwikkel sedert jou debuut op 16-jarige ouderdom met Midnight Train?

Ek het Midnight Train geskryf in ‘n paar aande terwyl almal in my huis geslaap het. Ek wou nie hê iemand moes weet waarmee ek besig is nie. Toe ek dit klaar geskryf het, het ek dit vir my broer gespeel, en hy het my oorreed om dit vir meer mense te speel. Ek het toe eindelik besluit, na my familie my oorreed het, om dit op te neem. Dit was my eerste opname by Ludwig Bouwer van One Big Room.

Die produksie van die liedjie was baie eenvoudig. Daar is geen dromme of perkussie op die snit nie; dit was net my broer op die kitaar en ‘n eenvoudige orrel-klank waarvan Ludwig my moes oorreed om in te sit.

Nou is my musiekmaak proses baie anders. Vandag sal ek enige plek begin skryf en werk aan idees, en meeste van die tyd is my doel om dit vry te stel. Ek werk steeds saam met Ludwig, en dit is die meeste pret van die hele proses.

Ek sal by die huis ‘n basiese produksie van die liedjie maak sodat ek presies weet in watter rigting ek die liedjie wil neem, daarna sal ek my demo na Ludwig toe neem, en ons sal saam fyn deur dit gaan om dit te transformeer.

Toe ek 16 was, wou ek niks behalwe my stem en kitaar opneem nie, nou sal ek omtrent enige iets in my produksies gebruik, want ek het besef wat ‘n groot impak die werklike musiek op ‘n liedjie maak.

Wat kan jou luisteraars verwag van die res van jou kortspeler Projections en die temas wat jy daarin verken?

Projections is ‘n versameling van emosies wat ek ervaar het die laaste 3 jaar. Dit is alles van my perspektief, presies soos wat ek in daai oomblik gevoel het. Dis die grootste rede waarom ek dit Projections genoem het, want dit is ‘n totale onpartydige siening van my omstandighede.

Ek glo ook dat dit is wat dit so spesiaal maak. ‘n Mens wil nie eintlik erken dat wat ‘n mens voel nie altyd gepas was vir ‘n sekere situasie nie, want ek meen, dis hoe jy voel; jy kan dit nie help nie. Die grootste tema in Projections is die tema van ‘ek wil beter wees’ in die sin van ‘ek wil beter wees as wat mense verwag’ of ‘ek wil beter wees as wat ek gister was’ of selfs net ‘ek wil beter voel oor my omstandighede’.

LEES MEER:

CARLA STRAUSS – PULLING TEETH