DODO – AS EK OPSTAAN

DODO – AS EK OPSTAAN

Dodo Nyoka is geen vreemdeling in die Afrikaanse musiekbedryf nie. In 2022 het hy as die naaswenner van die tweede seisoen van Die Kontrak uitgetree, en sy debuutenkelsnit, Foto’s, se musiekvideo is al meer as vier miljoen keer op YouTube gekyk.

Musiekvrystellings in 2023

In 2023 het hy sy aanhangers bederf met twee snitte – Frikkie vir ’n Rukkie en Country Girl van Bloem. En nou is hy terug met ’n splinternuwe enkelsnit uit sy pen, met die titel As Ek Opstaan.

Die Inspirerende Liedjie: As Ek Opstaan

“Die liedjie is eintlik ’n briefie geskryf vir my toekomstige vrou vir wanneer ek dood is, maar dit is ook ’n gesprek tussen my en God,” het Dodo gesê oor hierdie mengsel van rock, pop en alternatiewe klanke.

Die Verhaal Agter die Liedjie

Volgens Dodo is die inspirasie agter die liedjie God. “Die storie gaan tussen my en God, ek wou nie wag vir my toekomstige vrou nie, so ek en God het eintlik ’n gestryery gehad en ek het ’n paar keer geval. Maar dis ’n belofte wat ek aan God maak dat ek sal wag vir die een.”

“Hulle sê jy sal weet wanneer dit die een is, en ek dink die ‘weet’ is daardie klein stemmetjie van God,” het Dodo gesê.

’n Belofte aan God

Dodo sê hy het hierdie liedjie gekies omdat hy onlangs sy lewe vir die Here gegee het. “Dit sê in die Bybel dat ons God se bruid is. So wanneer ons onsself kies bo oor God is ons selfsugtig. So hierdie liedjie is my belofte aan God om hom bo oor als te kies.”

’n Liedjie vir Elke Man

“Ek voel elke man moet hierdie vir sy vrou of toekomstige vrou speel. As jy vir jou vrou wil sê hoe lief jy haar het, sonder om woorde te gebruik, is hierdie liedjie vir jou.”

Pragtige Musiekvideo

Dodo stel ook ’n pragtige musiekvideo, wat aansluit by die liedjie se woorde, vry. “As jy die musiekvideo gaan kyk, gaan jy sien hoe my kop en my hart werk. Ek deel my hart met die kykers,” het Dodo gesê.

Hoogtepunte van Dodo se Loopbaan

Dodo sê die hoogtepunt van sy loopbaan sover is hoe die mense sy liedjie Country Girl van Bloem ontvang het. “Dit is vir my so lekker om te sien hoe hierdie liedjie mense gelukkig gemaak het. Ek sê altyd ek is ’n sonneblom en die Here is die son. Sonder die son (die Here) gaan die sonneblom dood. En dis wat ek wil wees – daai warmte en lig wat die Here vir my gee, met ander mense deel,” het Dodo afgesluit.

Kry Dodo se Musiek Hier

As Ek Opstaan is nou op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music beskikbaar. Kry dit hier: As Ek Opstaan

SOSIALE MEDIA

Instagram