Hykie Berg se Nuwe Boek binnekort op die rakke.

Hykie Berg se Nuwe Boek binnekort op die rakke.

Die bekroonde akteur, entrepreneur en skrywer Hykie Berg se nuutste boek, GEROEP VIR MEER – OM SUKSESVOL TE LEWE, is eersdaags beskikbaar.

Inspirasie en Verantwoordelikheid

Die boek is geïnspireer deur alles wat Hykie die afgelope twee dekades oor die konsep van sukses geleer het en hoe om dit te bereik. “Die dag toe ek besluit het om persoonlike verantwoordelikheid vir my hele lewe te neem was die dag wat my lewe verander het. Ek het besef ek is nie meer ’n slagoffer en magteloos nie, maar dat ek die vermoë het om my lewe te kies en my eie toekoms te bou. Net só het elke mens daardie vermoë,” verduidelik hy.

‘n Veranderde Perspekief

Hykie beklemtoon die belangrikheid van ’n positiewe mentaliteit en perspektief. “Ons is nie vasgevang nie, ons moet net ons mentaliteit en perspektief oor die lewe verander. Elkeen van ons is geroep vir meer as wat ons besef of dink. Almal sukkel met beperkende gedagtes, maar jy is waar jy is as gevolg van die storie wat jy jouself vertel. As jy die storie verander, sal jou lewe ook verander. Jy is nie ‘stuck’ nie.”

Vir Wie is Die Boek?

Volgens Berg is GEROEP VIR MEER – OM SUKSESVOL TE LEWE geskryf vir dié wat bereid is om uiteindelik ’n kans te waag, God met totale toewyding te vertrou en in geloof die rigting van hul lewenskoers te verander. “Dit is geskryf vir elkeen wat weer hoop wil hê en werklik suksesvol wil lewe. Dis vir diegene wat bereid is om aksie te neem, uit hul gemaksone te tree en hul vrese in die gesig te staar.”

Beginsels van ‘n Suksesvolle Lewe

Hy brei uit: “Hierdie boek handel oor die beginsels van ’n suksesvolle en betekenisvolle lewe, die droom wat God oor jou lewe het en die persoonlike verantwoordelikheid wat elkeen van ons aan die dag moet lê om deel te kan hê in die wonderwerk proses van die lewe.”

‘n Uiteindelike Uitnodiging

“Ongeag jou omstandighede, jou verlede, of die uitdagings wat jy in die gesig staar, wil God jou uitnooi om saam met Hom ’n pad te stap, sodat Hy Homself aan jou kan openbaar en Sy geheime oor jou lewe aan die lig kan bring. Sy droom vir jou lewe is meer boeiend, belangwekkend en opwindend as enige droom wat jy self kan bedink, verbeel of voorstel,” vertel Hykie.

Hykie se Waarnemings

Hykie spreek gereeld gehore toe en is elke keer verstom hoe min mense werklik doelgerig lewe. “So baie mense het geen visie vir hul lewens nie en sal dus nooit hulle volle potensiaal bereik nie. Hulle weet nie wat hulle uit die lewe wil hê nie. Hulle weet nie waarheen hulle op pad is nie. Hulle het ophou droom en het geen doel, plan of eindbestemming nie.”

Hykie se Vorige Werke

Hykie se vorige boeke sluit in die topverkoper boek MY STORIE VAN HOOP, ULTIMATE SURVIVOR (die Engelse vertaling van MY STORIE VAN HOOP), wat met die Andrew Murray Desmond Tutu-prys bekroon is, en MY STRYD MET ADHD-DIE ONSIGBARE OORLOG.

Skep ’n Nuwe Toekoms

GEROEP VIR MEER – OM SUKSESVOL TE LEWE vorm deel van Hykie en sy vrou, Gerridene, se visie om in die volgende vyf jaar 100 nuwe miljoenêrs te skep en 100 gesinne weer saam te bring deur pa’s en ma’s toe te laat om die rotresies te ontsnap.

Beskikbaarheid

Bestellings vir GEROEP VIR MEER – OM SUKSESVOL TE LEWE open binnekort. Hou sosiale media dop vir meer inligting.

Sosiale Media Skakels

Facebook: Hykie Berg

Instagram: @hykieberg

Threads: @hykieberg

Webwerf: www.hykieberg.com