Klassieke musiek skitter onder VOX Chamber Choir se leiding.

Klassieke musiek skitter onder VOX Chamber Choir se leiding.

Vox Chamber Choir het gisteraand groot eer ontvang toe hulle die Aitsa-toekenning vir Beste Klassieke Snit van die Jaar gewen het met hul indrukwekkende opname van DEURGROND. Hierdie meesterlike stuk, wat vroeër in 2024 vrygestel is, is ’n toonsetting van Psalm 139:5 en 12, met oorspronklike musiek deur die komponis-dirigent Franco Prinsloo.

’N TYDLOSE BERYMING

Prinsloo sê oor sy werk: “Totius se Psalmberymings is tydlose liriese materiaal, en ek is bevoorreg om dit nuwe lewe te gee deur ’n eietydse toonsetting.” Die stuk gebruik twee verse uit die beryming om die koorwerk DEURGROND te skep, wat opgedra is aan Engela Labuschagne, ’n koorlid. Die albumkuns, deur die kunstenaar Alet Pretorius, is ’n treffende foto van Labuschagne, geneem net voor een van Vox Chamber Choir se konserte in 2023. Ludwig Bouwer van One Big Room Studios het die produksie behartig.

TWEE JAAR IN ’N RY

Dit is die tweede jaar in ’n ry dat die koor met die Aitsa vir Beste Klassieke Snit weggestap het, nadat hulle verlede jaar die toekenning gewen het vir die opname van WIEGLIED, die vyfde beweging in Prinsloo se siklus Ghoera Liedere.

HULDE AAN LAURIKA RAUCH

Vox Chamber Choir het ook opgetree tydens die toekenningsplegtigheid en hulde gebring aan Laurika Rauch, wat vereer is vir haar lewenslange bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf. Prinsloo het die keurspel van Rauch se treffers spesiaal vir die aand verwerk. “Dit was ’n groot eer om Laurika se bekendste werke uit te voer,” sê Prinsloo.

Vox op die verhoog. jpeg min
Vox Chamber Choir tydens vanjaar se Aitsa-musiektoekennings.

ERFENISDAG-VRYSTELLING: KLIPPIE IN DIE OSEAAN

As deel van die viering van Rauch se werk, sal die keurspel as enkelsnit, getiteld KLIPPIE IN DIE OSEAAN, op Erfenisdag vrygestel word. Die albumkuns, geskep deur Laurika se dogter, Nina Torr, is ’n besonderse toevoeging tot die vrystelling. “Ons nooi Suid-Afrika om saam met ons musiekerfenis te vier en na hierdie pragverwerking van Laurika se musiek te luister,” sê Labuschagne.

AFRI-INDIE SUKSES

Vox Chamber Choir het vroeër vanjaar ook groot sukses behaal deur die Afri-Indie Toekenning vir Beste Algehele Kunstenaar te wen, met hul album AETERNUM en die snit DEURGROND.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram