Laurika Rauch Keer Terug met Nuwe Musiek

Laurika Rauch Keer Terug met Nuwe Musiek

Ná agt jaar se ateljee-stilte en ’n oënskynlike uittrede uit die musiekbedryf is die legendariese Laurika Rauch terug met nuwe musiek.

Lang Loopbaan en Steeds Gewild

“Ek het die voorreg van ’n baie lang loopbaan van meer as 40 jaar gehad, maar tree nou al vir geruime tyd nie meer op nie,” sê Rauch. “Ek kry egter daagliks nog versoeke vir vertonings. As dit enigsins moontlik sou wees, wou ek ’n grootse gebaar teenoor die mense wat my en my werk nog steeds en oor soveel jare ondersteun, maak.”

Samewerking met Coleske-Groep

Rauch, wat byna agt jaar laas ’n nuwe liedjie opgeneem het, is saam met die Coleske-Groep aan die werk om ’n versameling nuwe liedjies op te neem. Die eerste snit, LIEWE LEWE, word op 26 Julie 2024 uitgereik, met die ander snitte wat een vir een sal volg. Die volledige versameling sal DV teen einde November beskikbaar wees.

Nuwe Liedjies en Jong Talent

“Ek en Carien Loubser (bekende TV vervaardiger vir ondermeer Die Republiek Van Zoid Afrika, JAN en Klanke Van My Hart) het ’n ontbytkuier gehad en sy het my bekendgestel aan die liedjie LIEWE LEWE van Christi van Niekerk, ’n jong en talentvolle komponis/sanger. Ek en Arnold Coleske, Paulo Azevedo en Juan (Floors) Oosthuizen het aan die werk gespring. Dis ’n pragtige, vars en vrolike liedjie met ’n ideale boodskap. Ek beplan om nog ’n paar liedjies van jong, maar ook gevestigde liedjieskrywers op te neem. Die versameling sal definitief ook spog met ’n paar vintage Laurika liedjies,” sê Rauch.

Ondersteuning van Jonger Kunstenaars

Rauch erken dat sy nie doelbewus oor die jare ’n platform vir jonger kunstenaars probeer skep het met samewerkings nie, maar sy is dankbaar as dit wel hulle loopbane gehelp het. “Dit was Arnold Coleske se idee om Christi ook te betrek as medewerkende kunstenaar en die toevoeging van haar stem maak ’n pragtige bydrae tot LIEWE LEWE.”

Samewerkings met Bekende Kunstenaars

Ander jonger kunstenaars saam met wie Laurika al gewerk het sluit onder andere in, Kurt Darren in sy jonger dae, die bekwame kitaarspeler en vervaardiger Loki Rothman, DIE HEUWELS FANTASTIES, ELVIS BLUE asook die alternatiewe groep BITTEREINDER. Alhoewel sy nog altyd die verhoog as haar eerste liefde beskou het, was die afgelope weke in die ateljee vir haar absoluut vreugdevol en opwindend. “Die hele proses is vir my regtig lekker,” voeg sy by.

‘n Nuwe Fokus en Geleenthede

Rauch het ook nou tyd gekry om aandag te gee aan baie ander dinge en belangstellings waarvoor daar nooit tevore tyd was nie. Sy het haar spreekwoordelike huis in orde begin kry en haar toekennings, foto’s, memorabilia, musiekargief, artikels en resensies aan NALN (Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) in Bloemfontein geskenk.

Kunswerke deur Haar Dogter

Die omslag van LIEWE LEWE bevat ’n vrolike skildery wat deur Rauch se dogter, Nina Torr, gemaak is, gebaseer op ’n foto wat haar pa met ’n bokskamera geneem het tydens haar vyfde verjaarsdagpartytjie. Aanhangers kan uitsien na nóg unieke kunswerke van Nina wat as liedjie-omslae sal dien. “Nina het vantevore al tot van my werk bygedra – haar kuns was byvoorbeeld te sien in die boekie van WALS, WALS, WILLEMIEN en ook as die omslag van my IN DUET-versameling op Apple Music. Dis vir my lekker en betekenisvol om saam met my kind te werk.”

Opwinding vir die Toekoms

Laurika Rauch se terugkeer na die musiekbedryf met nuwe musiek is ’n opwindende gebeurtenis vir haar aanhangers en die Afrikaanse musiekgemeenskap. “Ek kan basies nie wag nie!” sê Rauch opgewonde.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram

LEES MEER

Christi van Niekerk – LIEWE LEWE