Liefdadigheidprojek vir Skoolfonds Inspireer Elvis Blue se Nuwe Snit, SKOOLGELD

Liefdadigheidprojek vir Skoolfonds Inspireer Elvis Blue se Nuwe Snit, SKOOLGELD

Elvis Blue is ʼn man wat nie skroom om opofferings te maak nie en dit is juis die onderwerp van sy jongste uitreiking getiteld SKOOLGELD. Hierdie kontemporêre Afrikaanse liedjie, uit sy eie pen, is geskryf vir die persoon vir wie jy met ʼn glimlag “skoolgeld” sal betaal.

“Ek dink almal van ons sal op ʼn manier met hierdie lied kan identifiseer, want almal van ons het hopelik iemand in ons lewe vir wie ons opofferings sal maak,” sê Elvis. Hy beskryf hoe hy wil hê die luisteraar die liedjie moet ontvang: “Ek het al baie na musiek geluister en wanneer ek daarna luister, dan is dit vir my asof die kunstenaar sê wat ek sou wou sê, maar ek het nie die woorde gehad nie. Dis ʼn kunstenaar se werk om die woorde te vind.”

Die idee vir die liedjie het ontstaan terwyl Elvis besig was met die beplanning van sy liefdadigheidsprojek, “Elvis Ry Vir Skoolgeld.” Met hierdie fietstoer ry Elvis 1 500 km van sy tuisdorp, George, na Mbombela (Nelspruit) om geld in te samel vir behoeftige kinders se skoolfonds.

Elvis sê hy het jare gelede besef dat hy geen idee het hoe die publiek sy musiek sal ontvang nie, maar hy hoop natuurlik dat luisteraars SKOOLGELD sal geniet en aanklank daarby sal vind. Hy voeg by dat die liedjies wat treffers geword het, nie noodwendig die liedjies is wat hy as hoogtepunte in sy lewe beskou nie.

Elvis is bekend vir Afrikaanse treffers soos GOUD IN DIE VUUR, SPORE, DIE BRUG, REDE OM TE GLO, en GEE MY NET ʼn VRIEND. Hy verduidelik: “Die liedjies wat vir my uitstaan as hoogtepunte, was nie noodwendig treffers nie, maar toe ek na hulle geluister het nadat hulle klaar was, het dit vir my gevoel asof ek, al is dit net op ʼn klein manier, kon regkry wat ek as kind wou doen. Dis nou nie iets wat in ʼn koerant beland nie, maar vir my is dit baie waardevol.”

Elvis Blue se splinternuwe enkelsnit, SKOOLGELD, is nou beskikbaar op alle musiekstromingsdienste.

Volg Elvis Blue op sosiale media:

Facebook

Instagram