ONS reik tweede enkelsnit, LAG, uit.

ONS reik tweede enkelsnit, LAG, uit.

Die dinamiese musiekduo, ONS, bestaande uit Marco van Deventer en Ruvé Erasmus, het met groot opgewondenheid hul tweede enkelsnit, LAG, vrygestel. Hierdie vrolike snit volg op hul suksesvolle debuut-enkelsnit DAAI LIEDJIE, wat vroeër vanjaar uitgereik is.

Marco verduidelik die inspirasie agter LAG: “Ek het so ’n paar jaar gelede ’n sê-ding gehoor: ‘Lag is die kortste afstand tussen mense,’ en ek het heeltemal verlief geraak daarop. En dit was toe ek nog ’n student was.

Die liedjie gaan eintlik daaroor dat ek nie geld of status nodig het om ’n meisie te beïndruk nie. Ek moet haar net laat lag. Dit is een van die sterkste gereedskap wat ’n mens kan gebruik op die eerste oogopslag.” Marco het die liedjie tydens die grendeltydperk geskryf.

LAG is een van die eerste liedjies wat ons as ’n groep geskryf het,” voeg Marco by. “Dit is ook die liedjie wat ons gespeel het tydens ons afspraak met Coleske, net voordat ons geteken is. Die liedjie het vir ons baie betekenis en herinner ons aan hoe lekker ons altyd saam kan lag.”

ONS hoop dat LAG die publiek se harte sal verower en deel van hulle daaglikse speellyste sal word. “Dit is ’n lekker ligte liedjie waarop jy kan sokkie, saam sing of selfs net in die agtergrond van jou braai kan speel!” sê Marco. “Dit het ’n aansteeklike energie wat jou net wil laat saam sing en dans. Die koor is so aanloklik dat dit maklik in jou kop vassit, en voor jy jouself kry, sing jy ‘La-la la’ heelpad in die winkels!”

Die duo hoop dat luisteraars sal ontsnap uit die realiteit wanneer hulle “Lag” luister. “Ons wil hê dat die luisteraars net vir ’n oomblik moet vergeet van al hul worries en net na hierdie lekker-kry liedjie luister. Ons belowe, een luister en jy is dadelik in ’n beter bui!” sê Marco.

ONS het groot drome, maar hulle benader alles stap vir stap. Een van hul planne vir die jaar is om ’n kortspeler vry te stel met nog meer opwindende liedjies. Met die ondersteuning van Buffelsfontein Brandewyn en Atlas Media het ONS ook ’n musiekvideo vir LAG verfilm.

Marco verduidelik die konsep agter die video: “Die musiekvideo sluit baie mooi aan by die tema van LAG, dat jy nie geld nodig het om ’n meisie te beïndruk nie, solank jy haar net laat lag. Die video wys hoe twee jong mense ontmoet en dadelik oor die weg kom omdat hulle mekaar laat lag. Hulle volg mekaar deur Pretoria op afsprake wat niks kos nie, maar vol lag is!”

Luister die liedjie nou op alle digitale musiekplatforms: https://ons.lnk.to/Lag

Die musiekvideo is by verskeie plekke verfilm, insluitend ’n partytjietoneel by ’n Puzzles-restaurant, ’n swembadtoneel, ’n toneel op ’n plaas, ’n motorhuis-toneel by iemand in die span se huis en eindig by die Voortrekker Monument. “Die musiekvideo is uniek want dit is vol lag en lekker tye,” sê Marco.

Maak seker jy luister na hierdie aansteeklike snit en geniet die vrolike vibes wat ONS vir jou bring!

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram