RUHAN DU TOIT SE NUUTSTE LIEDJIE INSPIREER TROTS EN HOOP

RUHAN DU TOIT SE NUUTSTE LIEDJIE INSPIREER TROTS EN HOOP

Ruhan du Toit, bekend vir sy treffers soos MONUMENTAAL en VAL OP JOU KNIEË, stel sy nuutste Afrikaanse kontemporêre liedjie, JY HOORT HIER, bekend. Hierdie liedjie dra ’n kragtige boodskap van hoop en trots, en vier jou unieke plek in jou land en gemeenskap. JY HOORT HIER herinner ons aan die rykdom van positiewe aspekte wat ons kan waardeer, en motiveer ons om by te dra tot ’n beter toekoms vir onsself en ons kinders.

DIE MENSE AGTER DIE LIEDJIE

Die liedjie is konseptualiseer deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, met lirieke en musiek geskryf deur Marco van Deventer en Georic Lomas. Volgens Ruhan is die storie agter die liedjie daarop gemik om mense weer opgewonde en positief te maak oor die toekoms van ons land. “Ja, met al sy foute het ons nog steeds soveel om voor dankbaar te wees,” sê hy.

DIE #JYHOORTHIER-VELDTOG

JY HOORT HIER is ook deel van Solidariteit se #JyHoortHier-veldtog, wat die boodskap dra dat Afrikaners steeds bereid is om die uitdagings in Suid-Afrika aan te pak. Dr. Dirk Hermann verduidelik: “Ons sê met hierdie veldtog dat ons hier hoort en dat ons bereid is om ’n verskil te maak.”

INSPIRASIE AGTER DIE MUSIEK

Ruhan erken dat dit moeilik is om te voorspel hoe ’n liedjie gaan vaar, maar hy is vol vertroue dat JY HOORT HIER mense sal inspireer, net soos sy vorige treffers DIE LAND en MONUMENTAAL. Hy beskryf die liedjie as een wat “sielskos na die tafel bring, met ’n lekker energieke tempo en interessante melodieë.”

DIE MUSIEKVIDEO: ’N VISUELE UITBEELDING VAN SUID-AFRIKA

Die musiekvideo, wat deur Atlas Media verfilm is, beeld die egte Suid-Afrikaanse essensie uit en sluit temas soos rugby, geloof, en familie in. “Die liggies aan die einde is elkeen wat sy hand opsteek om ’n verskil te maak. So steek jóú liggie aan saam my,” sê Ruhan. Die video is op verskeie plekke in Pretoria verfilm, met die orkesgedeelte by Sorcery in die ooste van Pretoria.

RUHAN SE MUSIEK: TROTS EN BEHOORT

Ruhan hoop sy musiek bring ’n gevoel van behoort en trots. Terwyl hy al baie hoogtepunte in sy loopbaan gehad het, noem hy sy eerste AFRIKAANS IS GROOT-optrede in 2016 as ’n onvergeetlike oomblik. Daar is ook nuwe musiek op pad, en hy verklap dat daar “miskien ietsie ligs en aan die kuierkant” verwag kan word.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram